Dankie vir die geleentheid om in hierdie redaksie te dien. Dit gaan nie oor my
foto’s nie maar oor die Woord. Dis een ding waarvan ek seker is: “Die Hemel en
die aarde sal verbygaan, maar My Woorde sal nooit verbygaan nie.”(Mattheus
24:35)
Die foto’s maak my skaam vir die eenvoud waarmee hulle die
waarheid vas lê.
As ek die mooi raak sien skop die adrenalienpomp in. Op die meeste foto’s lê ek op my maag of rug
of is ek onderstebo. Die hoofbestandeel
is die “Sjoe, Here, maar dit is mooi”, saam met ‘n binnekop-lied wat Hom prys.
Dis elke dag ‘n nuwe lied. Sommige foto’s het my sien sit en
rol in onwelriekende vis en iets van ‘n
hond wat meer agtergelaat het as sy voetspore.
‘See no evil, hear no evil, speak no evil’ terwyl die foonkamera die geskenke oopmaak.
Kyk nou net hoe gebeur my Kersdag-foto’s: Lees dit sommer
soos ‘n modernedag gelykenis. So uit hierdie week se dagboek.
God voorsien
Asof ‘n hoedspeld onder my bas gesit is, spring ek op toe ek
die uitsig deur die skuifdeur sien.
Vergeet van tande borsel, hare kam en die hond. Voor jy kan sê sonsopkoms stop
my kar by die strand. In my is ‘n ligte
maar sterk trilling en ek weet die aardbewing is op pad. Op die agterste
sitplek is ‘n blou sak vol hooi. Ek slaan my arms om die sak en wandel waardig
in die seepad af. Ek en ‘Abraham’.
Hoekom Abraham? Want Abraham beteken “God sal voorsien”.
Dit is Kersfees -- God sal voorsien.
Abraham het vir Izak gehad en die vuurmaakhout, ek het n sak
vol hooi en ‘n kamera. My oggendlesing wat kleef: 1 Thessalonisense 2:13 “... die Woord van God wat ook werk in julle
wat glo.” Ek glo en die Woord werk. Sy teenwoordig-heid is my suiwer
suurstofhelium.
My oë soek. Dit is hier, ek moet dit net kry. Die eerste stop
was net ‘n komma. Soos n glasie wyn lig ek die mandjie met hooi na die
skakerings agter die see, en my kamera se klik sê “baie mooi”.
"Die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan’t kom in die wêreld." (Johannes 1:9) |
Die tweede stop was ‘n kommapunt, die inleiding van wat wag.
Die houtpaal met die gat was daar, en die hooi maak ‘n nuwe prentjie so deur
die gat.
Soos die wyse manne volg ek die ster wat voor my uit gaan en
wag net vir daardie ster om tot stilstand te kom.
Dan is dit daar. Die punt. Staan dit en pronk op die top van
die hoogste van drie duine. Die rietkruis. Twee riete netjies vasgebind met
weggooi vislyn en daar gelos vir my. Die hooi het ‘n huis. Dit is mos Kersfees.
Jesus is mos in ‘n stal neergelê. Daar is mos hooi in ‘n stal. Jesus is mos
gebore vir die kruis.
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God.” Ek plaas die klein Bybeltjie saggies neer op die
hooibed, langs die kruis. My Jesus leef vandag.
“Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een
ding ontstaan wat ontstaan het nie,” Sy
ontstaan is oral rondom my. Wit wolkillusie spikkel deur die hooi, die son
boots Sy vuurvlam oë na. My ore hoor die see praat met baie waters. In Hom was
lewe, en die lewe was die lig van die mense.
En toe skielik die sandstorm. Die hooi waai weg. Die
vissermanne ‘waai weg’. Hy sonder my af net vir Hom. Ek klou aan die kruis.
"Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel." (Efesiers 6:11) |
Die wind sluk my in. Die wind lig my hande met die kruis so
hoog ek stamp ‘n gat in die wolke.
"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie." (Johannes 1:4-5) |
My arms en die kruis swaai soos die dirigeerstokkie van die
Philadalphia-orkes se dirigent terwyl ek in die rondte draai.
"Maar die Here julle God moet julle aanhang soos julle tot vandag toe gedoen het." (Josua 23:8) |
Een met die elemente buig ek nou neer en sien hoe die
sand teen my leë hooisak waai.
"En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind." (Lukas 1:30) |
Alles vir hierdie
moment, vervul die reikhalsende verlange in Sy teenwoordigheid. So voel dit om
te lewe.
Die foon klik nie meer nie, die battery is pap. ‘n Tyd vir
alles. Dit was tyd om huis toe te gaan.
Vol vreugde bereik ek my motor. Die mees basiese outomatiese
beweging om jou deur oop te sluit haak vas. Die sleutel. Wat ‘n wrede
ontnugtering. Waar is die sleutel van hierdie motor wat met die oog gesien kan
word en die werklikheid tuisbring. Wie se verstand gaan nou foto’s neem van ‘n
alledaagse karsleutel. My onthou is uitgeblus.
Op en af, op en af loop ek terug op my voetspore na my eerste
komma, kommapunt en punt. Die wind het reeds ‘n stuk dryfhout wat oop was half
toegegooi onder die sand -- watter kans
staan my bos sleutels en my bestuurslisensie en die elektroniese hekoopmaker
wat aan ‘n materiaalband vasgemaak is?
Ek weet dit is weg. Ek weet ook dat my Here alles ten goede laat
meewerk. Die bestuurslisensie krap die meeste. Here, het U ‘n afspraak vir my
by die lisensie-kantore?
Probeer my man nou
oortuig dat God ‘n plan het met alles as ons in Sy weg loop. My man sien klaar
hoe skelms die huise teiken en wag vir die
donker om ons hekoopmaker, sleutels en ons ou kar-vol-sand-en-hond-hare te
gebruik. Ai.
So begin die legkaart in plek val op plekke waar ek nie sou
gewees het as ek nie my bos sleutels verloor het nie. God verruil my sleutels
vir sleutels wat die Koningkryk oopsluit. Die engele staan reg: “So, sê ek vir
julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
(Lukas 15:10)
Ek sou nie hier gewees het nie.
By die slotmaker.
Ek sou nie hier gewees het nie.
Op pad van die slotmaker. ‘n Werklose wat baie hard werk se
werksprojek het omgetuimel in die middel van die pad en sy kartonne lê die wêreld
vol. Ek trek van die pad af. Tussen die twee van ons kry ons die trollie
weggetrek en die kartonne weer opgestapel. Ek gee vir hom R10, ‘n klein Bybeltjie in Zulu, en Jesus. So seën
ons mekaar voordat ek vertrek.
"Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word." (Johannes 3:17) |
Die motorlisensie afdeling.
So amper het ek hom gemis. Daar was net twee mense voor my, dan sou dit my oë wees wat getoets word.
Op bank 1 het drie van ons vriendelik gegroet en gesit. Die
Moslem-kêrel aan my linkerkant en die jongman, omtrent 30, aan my regterkant. Ek bid in my hart.
Op bank 2 het die
jongman gepraat van die dae toe hy op die Bluff as tuinier gewerk het en hoe
fiks hy was om van Umlazi af soontoe te loop. Hy vertel van sy een oog wat swak is.
Ek het my Joy-tydskrif
uitgehaal en gelees. Met die Moslem en die jongman weerskante aan my vasgestik
soos twee moue was dit moeilik. Ek voel duidelik die vier oë links
en regs van my wat my Jesus leestof opslurp.
Die jongman sê vir my hy is ‘n Jehova getuie. Ons praat oor
ons verskille. Hy belowe vir hierdie ou vrou dat hy vir God gaan vra om die
waarheid aan hom bekend te maak. Amper ‘n soort berg Karmel ondervinding. Ek
glo.
Voordat ek my goud, wierook en mirre kon oorhandig (die klein
Bybeltjie, die boek van Markus en die vel papier wat vrae beantwoord en
verduidelik hoe om weer gebore te word) moes ek opstaan om my oë te laat toets.
My toetsbeampte beanwoord ‘n oproep. Ek wag.
Teen die tyd dat ek my plek inneem om deur die volgende rye
stoele te werk is my jongman al naby die betaalpunt. Die oomblik wat ek die
ster sien stilstaan by die betaalpunt los ek my sak op my stoel en skuif-stamp
deur die rye knieë om hom te bereik. Hy neem die geskenke van my met
verwondering en dankbaarheid. My oë blink soos die liggies aan ‘n Kersboom.
Dankie Here. Dankie
vir verlore sleutels en gevonde siele.
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede
meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28)
Ek buk by die hulpelose kindjie in die stal, ek aanskou die Koning
op die wolke. “En Sy aangesig was soos die son wat skyn in al sy krag.”
(Openbaring 1:16)
God het voorsien! Jesus.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore
Seun geggee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar
die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)
Dit is kersfees.
Geseënde Kersfees.
********************************************************************************
********************************************************************************
English Summary.
This story is about the ecstasy of inhaling nature with my camera and self-provided
hay; floating in God’s Christmas presence.
Then the sand storm that blows away everything from Hay to fishermen
and leaves me face to face with my Lord. Clutching for dear life to the cross someone
had left on the beach (for me!) which turns into an orchestral baton as I sing
praises. Once the camera phone battery is no more I know it is time to go home.
My bubble almost burst when I find that in all this excitement I have
lost my key. God reassures me that all things work together for good for those
who love Him. There are lots of keys to have cut, a licence to have replaced
and my automatic gate key. Places I would not have gone to if I had not lost my
bunch of keys.
Every place brings forth human beings that God uses me to put them
under His wing. The angels of heaven rejoice.
All along the way I was aware of the Christmas reading I was slowly
studying in my quiet time.
All the blessings brings much joy and a blessed Christmas wish to you
all from me.
xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx
No comments:
Post a Comment
Please leave a comment about this post, however please note, all posts are moderated and abusive posts will be removed.